Reading Time: 2 minutes

Hi Almal,

Ek volg graag die televisieprogram Boereverneukers. Vir diegene wie dit nog nie gesien het nie gaan dit oor ware verhale van mense/individue wat groepe niksvermoedende mense uit hul hard verdiende en moontlik hul laaste geld uit verneuk het. Met mooipraatjies en beloftes van rykdom is hulle deur hierdie glansganse mislei om “beleggings” in hul projekte, besighede of wat ookal te maak. Dink maar aan die Kubus vrot melk in die 80s en later Krion wat bykans die hele Vaal Driehoek in armoede gedompel het. Daar is nog vele meer en dit duur steeds voort, Coin-it in Natal word tans ondersoek waar mense vragmotors gekoop het in ruil vir gewaarborgde vragte – niemand het nog hul vragmotor gesien nie en nou dat die hemel hoë rente opgedroog het is die gort gaar.

Is mense egter so niksvermoedend of is dit die konstante soeke na n skema of n idee wat vinnige rykdom belowe? Is ons werklik n nasie van goedgelowiges wat alle gesonde denke oorboord gooi wanneer daar n moontlikheid is van geld in die gatsak? As n skarminkel met n trompet geskal verklaar dat daar 30% of meer rente n maand verdien kan word of dat die belegging binne n kort tydperk verdubbel kan word moet die rooi ligte flikker. Soos wat ons almal armer word weens die stygende lewenskoste is dit natuurlik dat ons graag ons inkomste wil aanvul maar ons moet verstaan dat kits rykdom net in feëverhale voorkom.

‘beloftes … dat jou maandelikse paaiemente in een gekonsolideer kan word of dat jou paaiemente met tot 60% kan daal’

Wanneer jy maandeinde hande in die hare sit en probeer om die begroting te laat klop is daar n nuwe tipe slenter wat uiters aanloklik lyk. Die ewige SMS boodskappe, oproep sentrums en elektroniese oproepe (ek verpes dit) was beloftes maak dat jou maandelikse paaiemente in een gekonsolideer kan word of dat jou paaiemente met tot 60% kan daal. As jy gedink het die voorafgaande groep wat geld in skemas belê het die pad byster geraak gaan hierdie spul jou spoedig op dieselfde paadjie plaas. Alhoewel hulle nie finansiële rykdom belowe nie skep hulle die illusie dat al jou geldelike probleme in n oogwenk kan verdwyn. Pleks van somme maak van hoe groot jou besparing gaan wees vra eerder jouself hoe is dit moontlik dat dit kan waar wees? Presies!

Wees waaksaam mense.

Christo.  

This article first appeared in the Jan 2020 issue of Debtfree Magazine

Read the full magazine HERE